Die Uilhuis in die nuus: Buitestanderkuns

Buitestanderkuns: Die Wonderwêrelde van Miss Helen en Outa Lappies

deur Melvyn Minnaar (gepubliseer in Die Burger, Julie 2017)

Afrikaans het die mooi, bedeesde woord vir “Outsider”. Waar die Engels die gevoel van afsluiting, afstand suggereer, lyk “buitestander” meer na ‘n filosofiese beskrywing van iemand wat sku-sku nie presies by almal en die gemeenskap inpas nie.

Helen Martins, destydse inwoner van die mooi Diep Karoo-dorpie Nieu-Bethesda, was so iemand. Vandag, 41 jaar na haar selfdood op 78, staan haar huisie op die vaal, dor wal van die Gatsrivier as statige monument vir wat in die sewentigerjare bekend gestaan het as “Outsider art” werk wat buite die tradisionele norms en grense van gevestigde en selfs aanvaarde kunsterreinne geskep is.

Bekend as die Uilhuis, is Martins  se beskeie, maar dramaties aangepaste woning, vandag ‘n internasionale baken van “buitestander-kuns”. Toeriste stroom van oral in die wêreld om haar wonderwêreld van voëls, engele, diere en kleurvol-glinsterende mure, spieëls en blink dekorasies te kom besigtig.

Hulle word letterlik ingelaat in ‘n hoogs persoonlike fantasie-ruimte, van iemand wat haar ganse later lewe in kuns omskep het. Niks in die huis of die agterplaas is onaangeraak deur die verbasende skeppende drif van Martins in haar ouer jare.

Talle publikasies het al die lig oor die Uilhuis gesien en Athol Fugard se toneelstuk The Road To Mecca is gebaseer op Martins se lewe. Juis vanweë die sprankelkleure van die huisie se binnekant en die speelse “kameel-agterplaas” met sy sement-optog, sterre en maan teen die heining, is dit ‘n fotograaf se paradys.

Anne Graaff, een van die eerste mense wat oor Martins en die Uilhuis geskryf het, publiseer eersdaags ‘n heruitgawe van haar meesleurende boek wat die stories van Helen en haar werkers, soos Koos Malgas en die omstredenheid met die dorpenaars vertel. Samantha Reinders het prag-foto’s geneem.

Vandag, in ‘n wêreld verweef in kuns wat geen grense ken nie en kulture van heinde en ver, word die etiket “buitestander-kuns” nie meer gebruik nie. Die Britse kritikus Roger Cardinal het die beskrywing in 1972 geskep toe die diegene in die kunsbedryf al meer aandag geskenk het aan skeppende individue wat as’t ware hul ganse omgewing en leefstyl aan prosesse van versiering of aanpassing wy.

Destyds het die Franse die begrip art brut gebruik, eral na aanleding van die kunstenaar Jean Dubuffet se werk. .

Graaff gebruik die begrip ‘mistieke kuns’ vir die werkwyse van Helen Martins. Sy verwys onder meer na die invloed van die Oosterse mistiek soos dié van Omar Khayyam se Rubaiyat.

In ‘n ander Karoo-streek was daar nog een so ‘n ondernemende, toegewyde kunstenaar. As Martins onder algar op Nieu-Bethesda as “Miss Helen” bekend gestaan het, was Jan Schoeman by die mense duskant Prince Albert en verbygangers as “Outa Lappies” bekend.

“Verbygangers” is die regte word, want Schoeman was vele keere langs die pad, ’n afdraai van die N1, gesien mt sy karretjie en waentjie met goeters. Soms het hy sommer onder ’n Karoo-doringboom uitgespan en kon mense sy kunsgoed bewonder: borduurwerk of blikkies geverf en verander in waentjies, vuurtorings, klere met vere versier, alles bont en dinamies kleurvol.

Diegene wat gestop en met hom gepraat het, was beïndruk met sy wysheid van die veld en die wye landskap wat hy as sy woning gesien het. Met sy dood in 2011 was daar baie mense van oral in die land wat oor dié troebadoer-veldkunstenaar, “buitestander-kunstenaar” getreur het. Hy het in optimisme gelewe.

Alhoewel Helen Martins op ‘n nare manier haar eie lewe geneem het, is die meeste “alternatiewe” kunstenaars se werk kenmerkend van geesdrif en passie.

Nog so ‘n Suid-Afrikaner-kunstenaar was Nukain Mabuza wat ‘n geskilderde “rotstuin” in Matsulu, duskant Barberton, gebou het. (Fugard het ook oor hom ‘n toneelstuk geskep.)

Beide Mabuza en Helen Martin word genoem in John Maizels se mooi kunsboek Raw Creation wat in 1996 opslae gemaak het met die 44 “buitestaander-kunstenaars” wat hy wêreldwyd gedokumenteer het.

Sedert die konsep van “buitestander-kuns” daar in die sewentigerjare ontstaan het, het die wêreld van kuns globaal radikaal verander. Destyds was dit dienlik om aan kuns styl-etikette toe te ken. (Toe Helen Martins haar Uilhuis geskep het, was Westerse galerye dol oor sogenaamde Pop-kuns.)

Vandag is daar ‘n magdom media waarin kunstenaars werk, en daar is veel om te ontgin die die postmoderne kunstenaarwêreld. As die begrip effe sy waarde en trefkrag verloor het, is dit nietemin nuttig om te onthou watter betekenis mense soos Mabuza, Schoeman en Martins in hul onderskeie gemeenskappe gevestig het.

, , , , , , , , , , ,

No comments yet.

Leave a Reply